Totsiens, Riaan

Einde van 'n era...


Kameras (en trane) rol vir laaste bulletin

2012-11-26

Janice Keogh

"Jy’t mooi gemaak. Baie mooi gemaak. Soos wat jy baie keer gemaak het. Ek is trots bó-op jou.” Só het Mariëtta Kruger, Riaan Cruywagen se “TV-vrou” gesê toe sy hom gisteraand omhels het ná hy die laaste keer Suid-Afrika as ’n nuusleser vir die SAUK gegroet het.

Kruger wat vir byna 10 jaar in die 80’s en 90’s saam met hom die Afrikaanse nuus gelees het, sê sy het kliphard in die RSG-ateljee sit en huil tydens sy bulletin. In die agtergrond het sy regte vrou Riana, dogter Anita Bornman en haar man Nardo en Riaan se tweeling-kleinkinders Tiaan en Emma gestaan.

Riaan het tydens ’n huldeblyk aan hom ná die nuus trane afgevee toe sy dogter reguit vir hom gesê het dat hy nou vir eens moet stilsit en moet rus. Sy vrou Riana het ook die trane afgevee tydens die huldeblyk. Sy het voor die nuusbulletin gesê sy sien uit daarna om in die middae saam met haar man op die stoep te sit met ’n glasie wyn en die son te sien ondergaan, om in die aande teater toe te gaan en op die laaste minuut te besluit om bietjie weg te gaan vir die naweek.

Groot op Twitter, maar salig onbewus

Riaan was Maandag boonop die topbesprekingspunt in Suid-Afrika op die sosiale netwerk Twitter. “Ek weet nie eens wat dit is nie,” het hy gelag toe hierdie nuus aan hom meegedeel is.

Riaan het in sy afsluitingstoespraak verwys na homself as “net die oortjies van die seekoei wat uitsteek” in die reuse-spanpoging wat TV-nuus is. Hy het ook die kykers bedank daarvoor dat hulle hom vir jare lank in hul wonings toegelaat het enafgesluit met: “As ek terugkyk was alles net genade. Vir oulaas – totsiens, en goeie nag.” Ná hy die laaste keer die nuus gelees het het hy ook die mense wat jarelank die klank gedoen en die telesouffleur (“autocue”) bedryf het hartlik bedank.

Voor die laaste bulletin het hy foto’s saam met sy kollegas geneem en skertsend na homself as ’n “sentimentele sot” verwys.

‘Dis ’n verslawing’

Riaan se dogter het gesê sy wens mense wil haar pa ken soos wat hy regtig is. “Veral vir sy sin vir humor. Hy’s awesome. Sy het ook geskerts dat haar pa soms deminbroeke dra, dat hy meer as 300 dasse besit en dat drie kaste vol klere het terwyl haar ma net een het. “Dit het baie guts gevat om af te tree,” sê Anita. Riaan het gister na die uitsaaiwese vergelyk met ’n verslawing waar jy altyd vir jouself sê: “Net nog hierdie een keer.”

Riaan het gisteraand, op presies die dag wat hy 37 jaar gelede sy eerste nuusbulletin gelees het, ook sy laaste gelees. “Ek gaan die laaste een nou by die eerste een gaan bêre. Ek het dit ook gehou,” het Riaan gesê.

Raad vir opvolger?

Dit is nog nie duidelik wie sy opvolger gaan wees nie, maar sy raad vir dié persoon is: “Wees jouself, moet my nooit probeer naboots nie. Wees getrou aan jou persoonlikheid, soek altyd die waarheid en moet nooit jou integriteit versaak nie.”

Wat sal sy laaste sin wees?

2012-11-26

Riaan Cruywagen het nog nie gedink wat sy laaste sinnetjie Maandagaand gaan wees nie, maar hy reken hy sal sy heel laaste nuusbulletin afsluit met iets soos: “My taak is afgehandel. Goeienag,” berig Janice Keogh.

  • Hoe dink julle moet Riaan afsluit?
Laat weet gerus op die kommentaarkassie hiernaas.

‘Ek kyk altyd hoe jy jou pen optel en in jou baadjie se sak druk…’ – Dana aan Riaan

2012-11-26

Ek dink die laaste paar dae knaend aan jou, al het ons mekaar nog nooit ontmoet nie. Soos miljoene ander mense ken ek jou net as die man wat saans die nuus oor die televisie lees – die man wat nooit oud geword het nie.

Nou, skielik, gaan jy aftree. Ná vanaand sal jy nie meer daar wees wanneer ek saans om sewe op my groen bank voor die televisie gaan sit nie.

Hoekom ek effens verdrietig daaroor voel, weet ek nie.

Ek wil jou bedank, maar hoe sê ’n mens dankie vir iemand wat jou al vir soveel jaar daagliks vertel van moorde en tsoenami’s, bomontploffings en mynrampe? Stakings. Springbok-nederlae.

Ly jy nie aan post-traumatiese stres nie? het ek al gewonder. Kry jy nie soms snags ’n nagmerrie nie?

Ons kan saans voor die televisie sit en terwyl die nuus aan die gang is, kan ons opstaan en loop wanneer ons iets nie wil sien nie – iets te wreed, te hartseer, te ontstellend. Ons kan selfs voor die televisie sit en huil.

Soms, om van my frustrasie oor dinge in die land ontslae te raak, skreeu ek lasterlike goed wanneer party gesigte op die skerm verskyn. Of ek sal sommer hardop wonder wat die gemiddelde liggaamsgewig van ’n LP in ons parlement is. (Ek skat dit is 105kg plus.) Maar jý kan dit nie doen nie. Jy moet net daar sit en alles waardig met ons deel.

Jy het glo omtrent 7000 bulletins gelees, oor ’n tydperk van 35 jaar. Dis ’n onrusbarende gedagte: Ek was nog op skool en het nog geglo aan die onvernietigbaarheid van die NP en die verdienstelikheid van tienman-rugby toe lees jy al die nuus. Elvis het nog geleef, Madiba was in die tronk, en Sarel van der Merwe het nog in ’n Ford Escort gejaag.

En toe is jy al daar, Riaan. Ek het al gedink die doodsengel moet iemand soos jy wees. Ek spot nie. Dis asof jy die gawe het om die onafwendbare met gesag en waardigheid oor te dra.

Uiteraard het jy oor die jare heen ook goeie nuus vir ons gebring. Ek onthou veral in 1994 – 25 April 1994, die dag voor ons land se eerste algemene verkiesing. Ek en my oorlede pa het voor ons Telefunken-stel op Ventersdorp gesit. Die rakke in ons spens was volgepak met noodvoorrade vir wanneer die burgeroorlog die volgende dag sou uitbreek: blikkies boeliebief en sardyne en tuna, noedels, droë vrugte.

“Jaaa,” het my pa in die televisie se rigting gesug. “Wonder wat gaan ou Riaan môre-aand sê?”

In my verbeelding het ek gesien hoe verskyn jy die volgende aand op die skerm met ’n bloedvlek op jou hemp en jou das windskeef by twee gewapende guerrillavegters wat agter jou staan, terwyl jy in Engels verklaar: “Don’t panic, people. The rebel forces are in complete con¬trol...”

Die volgende aand – 26 April 1994 – was ek en my pa weer voor die Telefunken. Op die skerm het lang rye mense by stembusse gewag om te stem. En daar was jý, immer jonk, das reguit soos ’n skietlood om jou nek. Onberispelik. Waardig.

“Kyk net hoe bly is ou Riaan,” het my pa dadelik opgemerk. “Kyk net hoe verlig is die ou.”

Dis eintlik óns wat bly was omdat die oorlog toe nie gekom het nie, maar oor die jare heen het ons iets van onsself in jou begin sien, Riaan. Of liewer: Ons wou ook soos jy wees. Ons wou ook, soos jy, met waardigheid op die nuus reageer.

Ek kyk altyd hoe jy aan die einde van ’n bulletin jou pen optel en in jou baadjie se sak druk. Daar is iets gerusstellends daarin, byna soos die Amerikaanse president wat aan die einde van ’n toespraak sê: “God bless the United States of America.” Iets in daardie klein gebaar laat jou besef die lewe wankel tussen tragedie en genade. Dis ons aardse bestaan. Dit is só.

Ek lees party mense sê die nuus gaan nooit weer dieselfde wees nie. Dis nie waar nie, glo ek. Die nuus gaan weer dieselfde wees: Daar gaan weer moorde wees, en rampe, en Bok-nederlae. Maar jy gaan nie meer daar wees nie. Vanaand gaan jy jou pen vir die laaste keer optel en in jou sak druk.

Daarna gaan ons almal ’n bie-tjie meer alleen en weerloos wees in hierdie tyd waarin daar so baie slegte nuus is.

Geniet jou aftrede.

Dankie, ook vir die slegte nuus.

Dana

Eksklusief: ’n Groot aand vir nuus

2012-11-25

‘n Historiese aand wat Riaan Cruywagen nooit sal vergeet nie, was die tweede Februarie 1990, toe hy die volgende aan Suid-Afrikaanse TV-kykers van SABC2 meegedeel het. Kliek hier om ‘n opname van daardie uitsending te sien by Rapport.co.za

Wat sê Naas, Gareth en Dowwe Dolla oor Riaan?

2012-11-23

“Jy’t nuus selfs vir my interessant gemaak…”

Só bieg die Springbok-legende Naas Botha oor die nalatenskap van Riaan Cruywagen op die vooraand van die veteraannuusleser se aftrede.

Kyk die video hiernaas om te hoor hoe Naas en ander bekendes voel oor die einde van die Riaan-era.

* Hou hierdie webwerf dop vir nog video’s en stories oor Riaan se laaste nuusuitsending, komende Maandag.

Kykers neem afskeid

2012-11-22

“Die nuus gaan nie dieselfde wees sonder jou nie. Ons gaan jou mis, Riaan.”

Dít is die trant van die meer as 300 boodskappe wat lesers sedert Donderdagoggend op Beeld se Facebookbladsy vir Riaan Cruywagen geskryf het.

Elmari Venter skryf: “Saam die bekendste stem in ons land groot geword. Die oom met duidelikste, suiwerste Afrikaans wat ek ooit geken het! Mag jy ‘n wonderlike en vreedsame aftrede geniet, ons gaan jou almal mis, maar gun die rus vir jou met familie.”

Lees die res van die lesersboodskappe hier en stuur self vir Riaan 'n boodskap. KLIEK HIER


Riaan groet ná 37 jaar

2.11.2012

Riaan Cruywagen gaan vandeesmaand nog van die kassie af verdwyn, berig Ügen Vos.

Jimi Matthews, waarnemende uitvoerende groephoof van nuus en aktualiteit by die SAUK, het gisteraand bevestig dat dié veteraan- Afrikaanse nuusleser ná 37 jaar by die uitsaaier gaan aftree.

“Hy is al 67. Hy tree af,” het Matthews gesê.

“Dit sal Maandag 26 November op die dag en datum 37 jaar wees nadat hy by die SAUK begin werk het,” het Matthews gesê.

Dié bekendste gesig op Afrikaanse TV het gisteraand aan Beeld gesê hy is reeds sewe jaar oor sy aftree- ouderdom.

“Ek is eintlik heel rustig oor die hele (aftree-)besigheid. Dit is beslis nie ’n besluit wat ek ligtelik geneem het nie, want ek geniet my televisie-loopbaan terdeë.

Ek glo dat dit seker baie hartseer wees om my laaste aanbieding te doen – alhoewel ek dink dat daar seker heelwat minder adrenalien as tydens my eerste aanbieding 37 jaar gelede ter sprake sal wees.” Cruywagen het bygevoeg dat hy tydens sy loopbaan meer as 7 000 televisie-aanbiedinge gedoen het.

“Dit beteken dus dat ek minstens 7 000 aande nie by my familie kon deurbring nie, so ek moet sê ek sien nogal uit na die aande by die huis.”

Cruywagen het gesê dat hy wel sy huis verkoop, maar nie Johannesburg gaan verlaat nie. Hy beplan om in Desember en Januarie rustig oor wat die toekoms nou vir hom inhou, te besin.

Nuus is sy kos

“Ek het laas in 2006 ordentlike vakansie geneem en is toe sommer ver weg na Australië toe vir so twee tot drie weke. Ek is wel sedertdien af en toe vir ’n lang naweek of wat weg, maar dit is nie werklik genoeg om uit te rus en af te skakel nie.” Cruywagen het gesê dat hy ’n “selfopgelegde verpligting” het om als wat koerant is te verslind.

“Dit gaan maar so as die nuus jou kos is, maar dit nou lekker wees om bietjie rustig deur die dag die koerante en tydskrifte te lees en om dalk ’n boek eerder as ’n koerant te lees.”

“Ek het myself vir 37 jaar lank as iemand beskou wat in diens van die publiek is juis omdat ek by die openbare uitsaaier is en is baie dankbaar hiervoor. Ek was nooit een van daai ouens wat gereken het dat hulle nou ’n superstar geword het nie en die publiek moet maar self besluit of ek in my taak geslaag het of nie.

"Lord Tennyson het egter gesê: ‘The old order changes, yielding to the new’ – en ek voel dit is nou tyd vir my om aan te beweeg na iets anders toe.”

Cruywagen is ook bekend as die stem vir die destydse kinderaanbieding Haas Das se Nuuskas. Hy is ook ’n gesoute orrelis en het in verskeie kerke begelei.

Cruywagen wou aanvanklik ’n vlieënier van passasiersvliegtuie word en het nooit beplan om sy dae op die kassie te slyt nie.

In 1975 was hy ’n TV-nuusregisseur en het hy een aand onbepland en onverwags vir ’n nuusleser ingestaan.

Hy dra sy eie klere vir uitsendings en besit oor die 300 dasse.

Cruywagen en sy vrou, Riana, is al 40 jaar lank getroud. Hy het net een dogter, Anita (34).

Hy was deur die jare so gewild dat die SAUK in Junie 2003, ná openbare ontstokenheid oor berigte dat sy SAUK-kontrak nie hernu sou word nie, ingestem het dat hy met sy pligte sou voortgaan.

Die plaaslike groep Zinkplaat het die liedjie “Waar is Riaan” opgeneem na aanleiding van sy tydelike afwesigheid by die nuusspan.

Cruywagen het in verskeie flieks soos Orkney Snork Nie en Leon Schuster se Sweet ’n Short verskyn waar hy homself as nuusleser vertolk het.